Sunday, February 9, 2020

Crimes of the South African Police Service





Polisielede van Knysna voor ná man se dood

Twee polisiebeamptes en ’n polisiereservis van hier is in hegtenis geneem nadat ’n verdagte in aanhouding gesterf het.

Die spanning was gister tasbaar in die landdroshof hier waar twee van die drie vlugtig voor landdros L.C. Ndomo verskyn het.

Talle van hul kollegas het die hofverrigtinge saam met familielede gevolg.

Twee manlike polisielede is Woensdag...aand en ’n reservis gisteroggend in hegtenis geneem in verband met die dood van mnr. Tom Meyer van Rheenendal.

Besonderhede was gister skraps. Nie die staat of die verdediging het teen gistermiddag die dossier onder oë gehad nie.

Meyer is die naweek in Rheenendal weens die besit van dwelms in hegtenis geneem.

Meyer het konst. Christopher Moos (beskuldigde 1) na bewering met ’n mes in die arm gesteek tydens ’n worsteling wat ontstaan het toe eersgenoemde hom na bewering teëgesit het.

Beskuldigde 2 (wie se naam nie genoem mag word nie omdat hy in die hospitaal was en nie kon verskyn nie) en beskuldigde 3, reserviskonst. Clint van Rooyen, het Moos na bewering gehelp om Meyer by die polisiekantoor hier agter uit die polisievoertuig te laai.

Beskuldigde 2 het Woensdagaand ná sy inhegtenisneming in die polisieselle siek geword en is in die hospitaal hier opgeneem.

Hy was gister nog in afsondering en onder polisiebewaking in die hospitaal.

Mnr. Daan Derksen, wat vir beskuldigde 2 verskyn, het versoek dat die saak tot 11 Maart uitgestel word vir ’n borgtogaansoek.

Derksen het die versoek ook namens mnr. John Gillespie, wat vir Moos optree, gerig. Gillespie was elders besig met werksaangeleenthede.

Van Rooyen het gister om regshulp aansoek gedoen. Me. Henriëtte Breedt kla aan namens die staat.
Omdat polisielede betrokke is, word die saak deur die Onafhanklike Klagtedirektoraat onder leiding van mnr. Gavin Meyer ondersoek. Die twee beskuldigdes bly in aanhouding in die gevangenis hier. Dit was gister nie duidelik wanneer beskuldigde 2 uit die hospitaal ontslaan sal word nie.