Tuesday, January 23, 2018

Crimes of the South African Police Service

Polisie gee verdagte vermiste se kar
Deur Vania van der Heever    Vrydag 20 Maart 2015 02:40


Wayne Alberts

Alberts se silwer BMW waarin drie verdagtes ’n dag ná sy verdwyning aangekeer is. Hulle is later vrygelaat omdat hulle langer as 48 uur in polisie-aanhouding was. Foto: Vania van der Heever


Hulle weet hul kind lewe nie meer nie, sê die ouers van ’n Boksburgse man wat vyf weke gelede spoorloos verdwyn het.
Wayne Alberts (36), ’n pa van drie, was op Valentynsdag op pad na sy ouers in Boksburg toe hy spoorloos verdwyn het.
Nog stories wat goed gelees word:
Die volgende dag het die polisie drie mense in sy silwer BMW in Sunnyside, Pretoria, aangekeer. ’n Vuurwapen, dwelms en elektriese kabels is glo in hul besit gevind.
Die drie is weer vrygelaat omdat hulle meer as 48 uur in polisie-aanhouding was voordat hulle in die hof verskyn het, het Christine van Lingen, Alberts se ma, Woensdag gesê.
Hulle het moontlik al die antwoorde gehad, het sy gesê, maar het nou soos mis voor die son verdwyn.
“In my hart weet ek Wayne is dood. Ons was baie na aan mekaar.”
Toe sy vrou sy selfoon op 15 Februarie bel, het ’n vrou geantwoord en gesê Wayne slaap. “Daarna is die foon afgeskakel.”
Volgens Van Lingen het een van die drie ná hul vrylating na die Sunnyside-polisiekantoor teruggekeer om die vermiste man se BMW te kry.
“Die polisie het haar sonder enige vrae die motor gegee – dít nadat sy met ’n onwettige vuurwapen en dwelms daarin gevind is.
“Sy het die motor gebruik om hul prokureur te betaal.”
Die prokureur het die motor ’n dag lank in sy besit gehad en dit op 19 Februarie na die polisie geneem.
“Teen dié tyd was die motor nog nie as gesteel aangemeld nie en die polisie het geen inligting dat dit gesteel is, gehad nie. Die BMW is toe weer aan die prokureur gegee,” het sy gesê.
“Die polisie het ons eers op 1 Maart gekontak en van die motor verwittig. Niemand kan ons sê waar Wayne is nie.”
Leon van Lingen, Alberts se pa, het gesê sy familie kan nie aanbeweeg totdat hulle sy seun gevind het nie.
“Sy drie dogters is tussen vier  en 15 jaar oud. Dit is vir hulle moeilik. Ek lê in die nag wakker. In dié stadium dui alles daarop dat Wayne nie meer met ons is nie.”
Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder van die Sunnyside-polisiekantoor, het gesê die drie verdagtes is van die onwettige besit van vuurwapens aangekla.
“Hulle is op 18 Februarie weer vrygelaat omdat die saak teen hulle teruggetrek is vir verdere ondersoek.”