Wednesday, January 23, 2013

Crimes of the South African Police Service


Regstel-aksie: Unie pak polisie
2012-07-19 22:15
Marzanne van den Berg
Solidariteit het die polisie gister in die arbeidshof gepak en gevra dat hul plan vir regstellende aksie ongeldig verklaar word.

Die vakbond het stukke by die arbeidshof in Johannesburg ingedien waaraan twee jaar lank gewerk is.

Die ministers van veiligheid en sekuriteit (nou polisie) en van arbeid, die polisiehoof en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is die respondente.

Solidariteit voer aan die SAPD se plan vir billike indiensneming waarvan hul beleid ten opsigte van regstellende aksie deel is, is strydig met die Wet op Billike Indiensneming en die Grondwet, want dit maak voorsiening vir rassekwotas gegrond op die land se rassedemografie.

Solidariteit takel die SAPD se hele regstellende-aksieplan nou vir die eerste keer.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se arbeidsafdeling, het gesê die Grondwet bepaal die staatsdiens moet breedweg verteenwoordigend wees van die Suid-Afrikaanse bevolking, maar die SAPD-plan maak voorsiening vir absolute verteenwoordiging.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit, het gesê hulle kan nie aanhou om individuele sake hof toe te neem nie.

“Ons takel nou die wortel van die probleem, naamlik absolute verteenwoordiging.

“Ons wil hê die hof moet ’n bevel maak dat die beginsel van absolute verteenwoordiging ongeldig is.”

Hermann het beklemtoon dat Solidariteit met dié saak nie regstellende aksie pak nie.

“Wat die SAPD doen, is nie regstellende aksie nie, maar ’n rasse-ideologie.”

Volgens hom kan die nasionale demografie as maatstaf vir regstellende aksie gebruik word, maar dit moenie absoluut toegepas word nie.

“Die poel van beskikbare vaardighede moet in ag geneem word, want die staatsdiens het ’n verantwoordelikheid om goeie diens aan die publiek te lewer.

“Die werklikheid is dat die poel van beskikbare vaardig­hede wat tans aan die arbeidsmark gebied word, nie verteenwoordigend van die bevolking is nie,” het Hermann gesê.

As Solidariteit suksesvol is met dié saak, sal dit ’n presedent skep wat die hele staatsdiens sowel as die private sektor sal bind, het Hermann gesê.
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Regstel-aksie-Unie-pak-polisie-20120719