Saturday, December 22, 2012

Crimes of the South African Police Service


Photo of Sheriff waiting to remove SAPS assets.
  
BEELD 
Minister keer dat balju polisie se goed vat
2011-01-19 22:21
Philip de Bruin

Die minister van polisie het ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om te keer dat 128 stukke meubels en ander toerusting deur die balju van die hof uit die Gautengse hoofkantoor van die polisie verwyder word. Dit het gebeur nadat mnr. Lionel Greenberg (52) van Johannesburg in Januarie 2009 ’n bevel teen die minister gekry het waarin die polisie beveel is om skadevergoeding van R75 000 aan Greenberg te betaal weens onregmatige aanhouding. Die polisie is ook beveel om Greenberg se regskoste te betaal. Die bevel is verlede jaar op appèl van die minister deur ’n volbank van drie regters bekragtig.

Greenberg se inhegtenisneming en aanhouding het verband gehou met ’n klag van sy vrou ingevolge die Wet op Huishoudelike Geweld. 

In die appèluitspraak het een van die drie regters, me. M. Victor, in ’n minderheidsuitspraak skerp kritiek op die ondersoekbeampte, insp. M. Gouws van die Edenvale-polisie, uitgespreek. Sy het onder meer bevind dat Gouws nie in “goeie trou” opgetree het nie en dat sy nie die reg gehad het om Greenberg se grondwetlike regte aan te tas weens “irritasie, ongeduld en om ’n lid van die publiek ’n les te leer nie”. Ná die appèluitspraak het Greenberg ’n hofbevel gekry om beslag te lê op onder meer ’n TV, 20 lessenaars, 20 rekenaars, ’n yskas, ’n mikrogolfoond en tien muureenhede in die kantore van die Gautengse hoofkantoor van die polisie. Hy het aangevoer sy skadevergoeding en regskoste is nie betaal nie.  Brig. Johannes Meyer, hoof van litigasie in die regsafdeling van die Gautengse polisie, het namens die minister in ’n dringende aansoek teen die beslaglegging op die meubels gesê die beslagleggings is nie in belang van die regspleging nie, dat die beslagleggingsbevel “prematuur” is en dat daar verskeie gebreke in die bevel is wat dit “fataal gebrekkig” maak.